GESKIEDENIS
In 1680 het Vryburger Evert die aanvanklik toelaatbare 60 morg grond van die Kompanjie verkry om vrugte en groente te kweek. Dit word aanvaar dat die plaas Evertsdal na hom vernoem is.
Negentien jaar later het Evert sy plaas aan Hendrik Ooswalt Eksteen verkoop. Hy het ‘n fortagtige struktuur gebou, wat as wynkelder gebruik is, maar wat in onbruik verval het. Die splete in die mure van die gebou waardeur op aanvallende Khoi-Khoi en die San gevuur is, kan nou nog gesien word.
Oordragdokumente aan Eksteen uit die jaar 1714 dui aan dat die bron van Kuilsrivier ‘n put in die kelder van die huis is. Die oorspronklike huis met sy T-vormige ontwerp in tradisionele Kaaps-Hollandse styl, dateer uit daardie jare. Tien jaar later is dit aan Gysbert Verwey verkoop en die oordragakte is deur Ryk Tulbagh, wat destyds Registrateur van Aktes was, onderteken.
Latere eienaars was: 1764 Johannes Louw; 1803 Pieter Joosten; 1815 Jacobus Wynand Louw; 1855 Familie Schabort (vrou van Jacobus Louw)
Sedert 1973 behoort die oorspronklike opstal aan die Marais-familie wat dit met geduld gerestoureer en steeds in stand hou. In Januarie 1976 het Laerskool Eversdal vir die eerste keer sy deure oopgemaak.